Article Information

Author:
Franci Greyling1

Affiliation:
1Faculty of Arts, School of Languages, North-West University, South Africa

Postal address:
Private Bag X6001, Potchefstroom 2520, South Africa

How to cite this article: Greyling, F., 2013, ‘Die versamelaar’, Literator 34(2), Art. #1037, 2 pages. http://dx.doi.org/10.4102/
lit.v33i2.1037

Copyright Notice:
© 2013. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals.

This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.
Die versamelaar
In This Litera...
Open Access
Hy kry sulke oproepe, daarom vertrek hy om so teen middel-oggend daar te kan wees. Dis ‘n windstil dag en ’n droë seisoen met min weiding, lappe verdorde mielies en Witbank wat in rookmis drywe.

Soos sy beduie het, volg hy die snelweg tot kort duskant Middelburg, draai op ’n distrikpad af, ry die aangewese kilometers tot waar hy, ’n fraksie te laat, die naambord anderkant die droë driffie sien en moet terugstoot om by die smal grondpaadjie af te draai.

Die pad is lanklaas geskraap. Hy bestuur versigtig sodat die onderstel nie teen die middelmannetjie skuur nie. Hier lê die lande braak. Die windpomp by die sementdam langs die werf staan roerloos.

Dis ’n vrou wat die hek vir hom oopmaak en beduie waar hy onder ‘n peperboom kan stilhou.

‘Die versamelaar?’ vra sy toe hy uitklim. Sy lyk ouer as wat haar stem oor die telefoon geklink het, maar haar handdruk is ferm. Raakvathande. ‘Dis gaaf dat u gekom het. Kom nader...’ Die sementpaadjie wat reg op die huis afloop, verdeel die grasperk netjies in twee. Naby die voorstoep, wat soos dit met die ou plaashuise is oor die breedte van die huis strek, buk sy om wilde gras teen die paadjie uit te trek en kyk half verskonend om. ‘As mens ook nie jou hand op dinge hou nie...’

‘Dis so,’ stem hy saam.

‘U’s net betyds vir tee,’ sê sy as hulle die rooibruin trappies opklim. ‘Dis die man van die stad, Pa.’ Die versamelaar probeer sin maak van wat sy sê; besef dan dat sy nie met hom praat nie, maar met die ou man wat in die skadu op die stoep sit. ‘Thys, dis die man van die stad, die een van wie ek jou vertel het...’

Die ou man draai sy kop weg.

Die vrou glimlag effe verleë na die versamelaar. ‘Kom binne. Ek is juis besig om tee te maak.’ Sy hou die deur oop sodat hy kan instap.

’n Gang strek die huis in.

‘Kom sit.’ Sy beduie na die kamer regs van die gang. ‘Kom sit asseblief. Maak u tuis. Ek gaan skink net gou die tee... of verkies u koffie?’

‘Tee sal lekker wees, dankie.’

Die gordyne is dig getrek teen lig en stof en hitte. Dis ouerige meubels, sien die versamelaar. Funksioneel. ’n Embuia bal- en kloustel, ’n gemakstoel van kunsleer, ’n hoektafeltjie met ’n leeslamp, ’n klompie familiefoto’s en ’n stapeltjie tydskrifte daarop. Teen die mure hang enkele verdwaalde skilderye. Blokke helderder muurpapier verklap dat ander tot onlangs ook hier gehang het. In die hoek is ʼn paar kartondose gestapel.

Die boekrak is agter die deur.

Onwillekeurig beweeg hy daarheen en laat sy oë en vingers oor die boeke gly, trek die een ná die ander uit, voel die gewig daarvan in sy hande, die tekstuur onder sy vingers, adem die geur van papier en drukkersink. Hy merk die oopval by vertroude plekke, potloodaantekeninge, koerantknipsels, die eienaar se handtekening voor in elke boek. Sterrekunde, letterkunde, argeologie, plantkunde, landbou... ’n Leeftyd se belangstellings, ’n leeftyd se lees.

‘Daar’s nie plek vir boeke nie... ‘ Dis die vrou met die tee.

‘Ek...’

Sy glimlag asof sy sy verleentheid begryp. ‘Dis tog waarvoor ek u genooi het – om na die boeke te kyk.’

Hy neem die skinkbord by haar, wag dat hy op die bank sit voordat hy vir haar hou, homself help en in die gemakstoel plaasneem.

‘Lees was vir hom altyd ‘n plesier, maar nou met die ouderdom. Sy oë...’

Hulle gesels oor lees en oor boeke, oor die reën wat wegbly, oor verhuising ná al die jare op die plaas, oor die kinders in Sydney, misdaad, die mielieprys, mediese fondse en oor dinge wat verbygaan. Heeltyd is dit asof sy luister vir ‘n geluid van die stoep af, vir beweging in die gang.

‘Jy het seker ook nie die hele dag tyd nie,’ sê sy later. ‘Is daar van die boeke waarin jy belangstel?’

Hy knik. ‘Ek sal betaal.’

Sy skud haar kop. ‘Dis nie nodig nie. Ons is tog te dankbaar dat iemand die boeke kan gebruik. Wag, ek trek die gordyne oop dat jy beter kan sien.’

Van die leunstoel af kan mens ‘n deel van die stoor sien, die windpomp, mielielande en in die verte ’n lagie blou berge.

‘Ek het ‘n paar kartondose reggesit,’ sê die vrou met die skinkbord in haar hande. ‘Pak gerus die boeke in wat jy wil hê.’

Haar voetstappe verdwyn in die gang.

Die versamelaar neem bestek op: Die vrou in die huis, die man op die stoep, die vreemdeling in die voorkamer. Werf. Windpomp. Stoor. Mielielande. Berg. Boeke.

Sorgvuldiger kyk hy nou. Die boeke wat hom aanvanklik opgeval het pak hy in die kartondoos, hou ‘n stapeltjie vir ‘n tweede oorweging, plaas ander terug op die rak. Van die boeke besit hy reeds. Daar is egter nie rede waarom hy nie meer as een eksemplaar kan hê nie – veral nie as die alternatief ‘n paar vergete bokse in ’n afslaer se stoorkamer of die uitskottafel op ‘n kerkbasaar is nie. Só het hy dit vir homself deur die jare uitgemaak. Die plesier daarvan om te besit, die plig om te bewaar.

‘Wat maak jy met my boeke?’

Hy skrik van die onverwagse stem agter hom.

Dis die ou man.

‘Goeiedag.’

Die ou man ignoreer sy uitgesteekte hand. ‘Wie’t gesê jy kan my goed kom vat?’

‘Oom?’

‘Ek praat met jou!’

Waar is sy vrou?

Asof sy wis dat hulle haar nodig het, is die vrou in die kamer. ‘Pappa... Dis mos die man waarvan ek jou vertel het, dis hy wat die boeke kom haal.’

‘Niemand vat my boeke nie!’

‘Hy sal goed daarna kyk...’ Sy raak aan die ou man se arm. Hy’s ’n lang man, sien die versamelaar, so langs sy vrou is hy lank.

‘Wie gee jou die reg om hier in te stap en my te besteel?’ Dis asof die man haar nie gehoor het nie.

‘U... Dis pragtige boeke.’

‘Onthou ons moet trek, Ouman,’ probeer die vrou weer. ‘En daar’s so min plek in die tehuis.’

Hy kyk na haar, vir ’n oomblik van stryk af. ‘Ek gaan nêrens...’ sê hy, skud sy arm los en tree tot voor die boekrak. ‘Ek gaan nêrens nie en my boeke bly net hier!’

‘Thys...’

Hy strek sy arms weerskante toe uit. ’n Skans teen die vyand. Sy oë flits tussen die versamelaar en die vrou. ‘Jy los my boeke! Ek laat nie my boeke wegdra nie!’

‘Pappa... Thys...’ Die vrou vat om sy uitgestrekte hand, streel daaroor; oor sy pols, sy arm langs, oor sy skouer, stram nekspiere, geplooide gesig. ‘Dis reg so,’ sê sy vertroostend. ‘Dis reg, my man.’

‘My boeke. Jy vat nie my boeke nie. Myne,’ mompel hy met dowwe oë.

‘Nee,’ troos sy met haar hand teen sy wang. ‘Hy het net kom kyk... watter mooi versameling jy het.’

Dit was lank, onthou die versamelaar later, lank voordat die man ontspan het, toegelaat het dat die vrou hom na die leunstoel lei, hy daarop neergesak en nikssiende voor hom uitgestaar het.

Hyself het op die stoep gaan wag totdat sy na hom kom soek het. Hy het saam met haar hek toe geloop, haar verskonings weggepraat en vaagweg genoem van dalk eerder ’n ander keer; gegroet, en na die leë motor onder die peperboom teruggestap.

Langs die motor het die man gewag.

Hoe het hy so gou uit die huis gekom? Wil hy hom weer konfronteer?

‘Dis van die wind,’ het die man gesê en oor sy oë gevee. ‘Maar dit moet waai. Dis nodig vir reën.’ Hy het sy hand uitgesteek. ‘Dankie vir die aankom. Veilige reis.’

Sy handdruk was klam – soos sy oë.

Vanweë die swaar vrag het hy moeilik bestuur.

In die truspieëltjie het die windpomp roerloos gestaan, soos die vrou by die hek en die versamelaar onder die boom.



Crossref Citations

No related citations found.