Article Information

Author:
Heilna du Plooy1

Affiliation:
1School of Languages, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa

Correspondence to:
Heilna du Plooy

Postal address:
Private Bag X6001, Potchefstroom 2520, South Africa

Dates:
Published: 28 Nov. 2013

How to cite this article: Du Plooy, H., 2013, ‘Behep met die kompleksiteit van die eenvoud – ’n Onderhoud met Hans du Plessis’, Literator 34(2), Art. #1085, 3 pages. http://dx.doi.org/10.4102/
lit.v34i2.1085

Copyright Notice:
© 2013. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals.

This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.
Behep met die kompleksiteit van die eenvoud – ’n Onderhoud met Hans du Plessis
In This Interview...
Open Access
Inleiding
Inleiding

Hans du Plessis is ‘n gesoute skrywer wie se loopbaan as akademikus en skrywer in verskillende fases uiteenval. Hy het aan die Universiteit van Pretoria studeer en ook aan die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA) waar hy in 1975 ’n doktorsgraad in Afrikaanse Taalkunde behaal. Hy hou ses jaar skool voordat hy eers by UNISA, dan by die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) en later by die Potchefstroomse Universiteit (PU) vir Christelike Hoër Onderwys (CHO) as professor Taalkunde doseer. In 1990 word hy die eerste direkteur van die ATKV-Skryfskool aan die PU vir CHO en met die oog daarop woon hy in 1991 skryfskole in Iowa en Oklahoma by. Hy is die skrywer van altesaam 160 publikasies, akademies en populêr, maar sedert sy debuut met die bundel Kleinwild in 1978, publiseer hy ses digbundels, drie jeugromans en vyf romans. Ses verhoogstukke van Hans is reeds by verskillende kunstefeeste opgevoer.

Aan die einde van 2011 tree Hans af en word voltyds skrywer. Ek onthou baie goed hoe hy, voor die skuif na die Skryfskool en die vak Skryfkuns, gesê het dat hy toe besluit het hy wil ’n skrywer wees en nie meer ’n taalkundige nie, maar vanselfsprekend het die direkteurskap van die Skryfskool met al die skryfkursusse en administratiewe werk sowel as die dosering van Skryfkuns as vak, hom vir 20 jaar baie besig gehou. Nou kan hy uiteindelik al sy aandag aan sy skryfwerk wy. Hierdie onderhoud gaan dan ook spesifiek oor Hans du Plessis se eie kreatiewe skryfwerk as digter en romanskrywer, juis nou pas voordat hy sy vyfde roman in konkrete vorm in sy hande kan hou.

Heilna: ‘Jy is opgelei as ’n taalkundige, maar ek kan my voorstel dat taal jou op meer maniere interesseer as net vanuit ’n taalkundige hoek. Wat is jou siening van taal en die moontlikhede en funksies van taal (nie in ’n politieke sin nie maar in ‘n linguistiese en literêre sin)?’

Hans: ‘Taal is vir my baie meer as ’n blote kommunikasiemiddel. Ek is wat ek praat, en ek praat met my siel, nie met my mond nie. Ek sou waarskynlik heeltemal anders geskryf het as my moedertaal iets anders as Afrikaans was. Vir my is my grootword in Afrikaans onskeibaar van wat en hoe ek dink en voel. Taal is daarom meer as die grammatika daarvan: dit is ek. Ek skryf in Afrikaans omdat ek nie anders kan nie, soos wat enige ander skrywer skryf soos wat hy of sy gebek is.’

Heilna: ‘Jou eerste publikasies was digbundels. Het die moontlikhede van taal jou na die poësie gelei?’

Hans: ‘Nee, die poësie het my na die taal gelei en na my eie moontlikhede (en juis my eie onmoontlikhede). Ek wou nie die taal dien nie: ek wou net myself in woorde sê. Ek wou iets sê, en omdat ek taal is, het ek dit in taal probeer sê. Dat dit aanvanklik deur die poësie was, het vanself gekom. Ek het nie daaroor gedink nie, en noudat ek daaroor moet dink, is ek self nie seker nie. Kuns, watter vorm ook al, so lyk dit vir my, is ’n gegewe, nie ’n gegrawe nie.’

Heilna: ‘Jy skryf in verskillende genres. Hoe werk dit vir jou: lei bepaalde stof jou na ’n bepaalde genre of het dit meer te make met ’n stadium in jou skrywerslewe?’

Hans: ‘Ek wens ek het geweet! Daar is baie dinge wat hierin ’n rol speel, en die aard van die stof en die lewensfase is sekerlik deel daarvan. Ek moet egter erken dat ander faktore, soos kritiek, ook ’n rol daarin speel – selfs ’n kunstenaar reageer op die klimaat. My derde boek, Grensgeval, huiwer op die grens van novelle en kort roman. Dit het ontstaan tydens ons verblyf van ses maande in Namibië. Die reis van die roman is in breë trek my eie navorsingsreis, sonder dat dit outobiografies word. Die roman is duidelik ook gestimuleer deur die Namibiese omgewing. Verder, moet ek bieg, was ek ontsteld oor ’n negatiewe resensie van my poësie, toe dog ek: ek sal jou wys ek kan goeie prosa skryf!’

Heilna: ‘Watter genre verkies jy tans of skryf jy maar aan almal en in almal gelyk?’

Hans: ‘Ek verkies die prosa, miskien omdat dit meer dink en minder voel is as die poësie. Vir my is die skryf van poësie iets wat meer van binne (en van Bo) kom as die prosa. Vir my tap dit my emosie meer as my intellek. Jy het in die prosa ook meer plek en tyd om jouself te vertel. Boonop het jy karakters wat meesal maar seker fasette van jouself is. Een ding is seker: ek kan nie aan/in twee genres tegelyk werk nie, eintlik, as ek eerlik moet wees, kan ek nooit aan twee goed gelyk werk nie.’

Heilna: ‘Jy het verskillende soorte poësie geskryf, of so lyk dit altans van buite beskou. Die vroeë bundels was ernstiger gedigte in Standaardafrikaans en later verkies jy vir die poësie die Griekwa-afrikaans. Vertel asseblief meer van die twee fases van poësie in jou oeuvre. Die Griekwataal-gedigte handel hoofsaaklik oor godsdiens en liefde – het dit enige spesifieke betekenis en is daar ’n bepaalde rede voor?’

Hans: ‘Ek het later in my lewe eers geleer dat engele kan vlieg omdat hulle hulleself so ligtelik opneem. Ek was ’n pynlike jongmens, effens outestamenties, wetties: daar was net reg of verkeerd, wit of swart en goed en sleg. Later eers het ek meer evangelies gedink, weg van binêre opposisies af. Die lewe het ’n skaal van skakerings geword. Die poësie is die kuns van die oorspronklike, maar dit verdra nie voortvarendheid nie. Dis nogal ongeduldig met tierlantyntjies. Ek dink die verskil tussen my vroeë en later poësie het ook met my selfvertroue te doen: vroeër was ek begaan oor hoe goed ander dink ek is, en later was ek meer begaan oor hoe ek self my goeterse beoordeel. Verder is dit ook belangrik dat die aard van die boodskap van die gemeenskap waaruit die Griekwa-gedigte kom minder opgesmuk is, en Elisabeth Eybers sê mos als wat getooi is lieg. Daar is vir my egter een draad wat na my gevoel dwarsdeur al my skryfwerk loop: ek is behep met die kompleksiteit van die eenvoud, veral soos wat dit in die natuur neerslag vind.’

Heilna: ‘Die bundels in Griekwa-afrikaans verkoop buitengewoon goed. Trouens, ek weet hulle het absolute ongekende rekordverkope bereik. Waar staan die verkope nou en hoe sien jy die saak? Het jy dit verwag en waarom dink jy is dit so gewild? Is daar ’n verskil in die reaksie van standaardtaalsprekers en Griekwataalsprekers op die bundels en waarom dink jy is daar die verskil?’

Hans: ‘Die Griekwa-gedigte is baie meer genade as moeite. Of is dit waar van alle kuns? Innie skylte vannie Jirre het nou al meer as sewentigduisend verkoop, Boegoe vannie liefde meer as tienduisend en Karos orie dyne het nou maar pas verskyn en ek dink hy is net so onder die drieduisend. Nie ek of die uitgewers het die aanvanklike reaksie verwag nie, hoewel my redakteur van toe, Hettie Scholtz, iets daarvan raakgesien het en dit anders as my eerste bundels verpak en laat bemark het.

As ek nou agterna moet sê, dink ek die bekoring vir mense lê in die eenvoud van taal en omgewing. Die Bybelse oorbekende oerwaarhede verpak in nuwe omslae.

Die reaksie van lesers was oorweldigend, en daar is inderdaad ’n verskil uit die onderskeie gemeenskappe. In die standaardtaalgemeenskap is ek soms van appropriasie beskuldig omdat ek die gedigte by die spraakgemeenskap sou gesteel het. Dit is ’n algemene postkolonialistiese aanval. Afrikaans en al sy variëteite het egter lankal die naelstring met die Nederlandse moeder geknip, en ek skryf daarom nie meer Afrikaans as kolonis nie. Na baie geslagte in Afrika is die Afrikaanse taalgemeenskap nie meer ’n bywoner in Afrika nie, en al die vorme van Afrikaans het ook ’n erfreg op Afrika. Ek begryp daarom die aanval steeds nie, want dit is mos ook net Afrikaans. Van een ding is ek seker: nie een enkele reël is opgeteken nie, alles is my eie dinksels. Dus is die intellektuele eiendom myne. Die Griekwagemeenskap is verdeeld in hulle reaksie. Die sprekers van die variëteit soos wat dit in Griekwaland-Wes gepraat word, is gaande daaroor, terwyl ander Griekwagemeenskappe, byvoorbeeld dié in die Wes-Kaap, gewoonlik meer negatief reageer met ‘Ons praat nie so nie.’ Dit verstaan ek, want nie alle Griekwas en nét Griekwas praat Afrikaans so nie. Variëteite van ‘n taal het nie kleurgrense nie.’

Heilna: ‘Ek moet ook weer terugkom na taal: jy skryf in verskillende vorme van die taal. Daar is die jeugboeke waarin jy die sosiolek van tieners gebruik, daar is die Griekwagedigte, dan is daar ook die gewone romans en nou ook die historiese romans waarin die aanvoeling vir ’n ouer vorm van taal sekerlik ’n rol speel. Geniet jy dit spesifiek om so die taal te verken of is dit vir jou ’n natuurlike aspek van skryf?’

Hans: ‘Dit is my taalkunde wat hier moet antwoord, want ek dink dit is omdat ek ook variasietaalkundige is dat my kennis, en my aanvoelling, van taalvariasie skerper is as wat dit sou wees as my agtergrond nie die linguistiek was nie. Die taalkunde het my lankal daarvan oortuig dat ’n taal die somtotaal van al sy variasiemoontlikhede is en dat geen vorm minderwaardig is nie. In my taalkundepublikasies het ek dit deurgaans beklemtoon, en nou sien ek dat dit ook in my skeppende werk onbewus deel was van wat ek wou sê. Vir my is skryf altyd om iets te sê te hê, en om dit te sê binne die kultuur van die betrokke teks.’

Heilna:Skuiwelinge was ’n komplekse roman waarin verwysingsvelde en allerhande onderliggende patrone ’n groot rol gespeel het, maar die latere romans lyk anders. Het jy daardie soort skryf heeltemal afgelê?’

Hans: ‘Seker nie heeltemal nie, maar ek dink dit was ’n bietjie vertonerig – en ek het nie besef so min kritici sal verstaan wat ek wou sê nie. Verder moet die struktuur, die tegniek en die boodskap van enige roman nooit sterker wees as die storie nie. Miskien is ek nou meer subtiel in my eenvoud, en steeds gaan verstaan van my skryfsels aan baie mense verby.’

Heilna: ‘Waar het die inspirasie vir die jeugromans vandaan gekom en hoe sien jy die verhouding tussen jeugromans en romans wat deur mense van alle ouderdomme gelees word?’

Hans: ‘Ek het nog altyd gedink die jeugromans kom grotendeels van my eie seuns se jeuglewe af, hoewel daar ook van my eie jeug as inspirasie moet wees. Ek dink nogal die skerp lyn tussen jeugprosa en romans vir die volwasse leser is oordrewe. Verbrande paradys en Die pad na Skuilhoek is sogenaamde oorgangsromans waar die lyn tussen die genres of duidelik aantoonbare lesersgroepe wegraak.’

Heilna: ‘Gee ’n kort weergawe van die beskouing van die geskiedenis wat die benadering tot historiese materiaal in Die pad na Skuilhoek en As die wind kom draai bepaal het?’

Hans: ‘Die historieseromanskrywer soek die storie agter die historie, en het daarom historici bitter nodig. Ek wil die werklikheid van die verlede oortuigend fiksionaliseer, want ’n mens kan net suksesvol lieg oor ’n waarheid wat jy regtig ken. Een aspek van my historiese romans is daarom die stel van ’n narratief oor die Groot Trek, maar paradoksaal genoeg is my historiografie verkieslik dié van die ongedokumenteerde. Die historieseromanskrywer moet die geskiedenis navors, anders is dit nie ‘n historiese roman nie, maar die geskiedenis werk met dit wat inderdaad geskied het, terwyl die storie per definisie fiksie is. Miskien is dit die hoofrede hoekom albei my romans oor die Groot Trek ’n onseker verlede as agtergrond het: historiese fiksie teer ook op onvolledige geskiedskrywing. My eerste historiese roman, Die pad na Skuilhoek, begin by die Liebenbergmoorde en die Vaalrivierslag van 1836, terwyl die tweede roman, As die wind kom draai, oor die sogenaamde onafhanklike republiek in die Potchefstroom-omgewing van 1844 gaan. Navorsing oor die eerste gedeelte van die Groot Trek, 1836–1844, en veral oor die Potgietertrek, dui spoedig daarop dat die trek van Andries Hendrik Potgieter nie goed gedokumenteer is nie. Dit is soms byna bloot op hoorsê dat `n mens moet rekonstrueer wat regtig gebeur het.’

Heilna: ‘Hoe voel jy oor die jongste roman? Vertel asseblief iets daarvan, byvoorbeeld wat jy eintlik in die roman op die hart het, of wat jou karakters op die hart het? Met ander woorde, wat wil jy met die roman sê?’

Hans: ‘Ek voel goed, want ek het moeite gedoen en ek het ’n uitstekende redakteur in Francois Smit gehad. Die roman is, anders as Die pad na Skuilhoek, nie ’n jeugroman nie. Dit is ook ’n liefdesverhaal, maar nie romantiese fiksie nie. Dit gaan om die liefde oor verskillende grense en handel oor die eeu-oue vraagstuk van ons en hulle.

“’n Mens is die storie wat jy van jouself vertel,” verwoord die karakter, Bybeltjie Steyn, dit wat die roman wil sê. Liefde is ’n wegholvuur, en die wind is so wispelturig soos mense. Kan Vryheid, afstammeling van ’n slaaf, vir mooi Magriet Skuilhoek toe bring as dié bergland haar só beklem? Buitendien, sê haar ma: Vryheid is nie een van ons nie. Dis tog wat Artikel Ses van die Burgerraad se Drie en Dertig Artikels eintlik sê. Hoe durf ’n basterkind soos Vryheid daarteen baklei, een wat nie eers weet wie sy pa was nie? En hoe lê jy liefhê uit?’

Artikel Vier en dertig,” skree Margriet oor die osse se koppe, sodat haar pa verskrik omkyk: “Die wet van Mooidorp: jy mag nie liefhê nie!”’

Heilna: ‘Watter boek lê jou die naaste aan die hart? Skrywers sê soms die jongste boek is altyd die gunsteling maar dalk is daar ’n ander een waarvoor jy ook ’n besondere sagte plekkie het.’

Hans: ‘Seker maar die jongste een. Of nee, miskien my eerste roman, Grensgeval, omdat dit vir my die rigting van my eie skryfwerk bepaal het.’

Heilna: ‘Baie dankie, Hans dat jy met soveel geduld al my vrae beantwoord het. Ek hoop die nuwe boek het ’n goeie en gelukkige ontvangs in die oë en harte van lesers en dat dit vir jou as verdere inspirasie sal dien.’



Crossref Citations

No related citations found.