Van sterre tot sterre

Book Title: Aantrekkingskrag – ’n Drama vir die verhoog
Author: Deon Opperman
ISBN: 978-1-86919-942-5
Publisher: Protea Boekhuis, Pretoria, 2013, 80 pp., ZAR140.00* *Book price at time of review

Reviewer: Salomi Louw1
Affiliation: 1School of Languages and Communication Studies, University of Limpopo, South Africa
Postal Adress: Britsweg 561, Pretoria 0182, South Africa
How to cite this book review: Louw, S., 2014, ‘Van sterre tot sterre’, Literator 35(2), Art. #1107, 2 pages. http://dx.doi.org/10.4102/lit.v35i2.1107
Copyright Notice: © 2014. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Book Review
Open Access

Die publikasie van Afrikaanse dramas is altyd welkom. Opperman is een van die gelukkige (en begaafde) dramaturge wie se teaterstukke gereeld ook as publikasies verskyn en dikwels met pryse bekroon word. Die feit dat hy die Herzogprys vir drama reeds twee keer gewen het, dra natuurlik by tot die aansien van hierdie teaterman.

Professor Zak de Villiers en sy vrou, Leonor, keer terug ná die bywoning van ’n studenteproduksie van Hamlet waarin hul seun gespeel het. In die openingstoneel win ons inligting in oor dié twee karakters: Zak is ’n wetenskaplike wat ook ’n taalkenner en -puris is met omvattende algemene kennis. Sy vrou is lief vir haar drankies en hou daarvan om te flankeer; miskien ’n bietjie liggewig vir die sterrekundige met wie sy getroud is. Zak het vir Martin wat sedert studentejare sy vriend is, tans Hoof van Drama en regisseur van Hamlet, oorgenooi vir ’n drankie, en Leonor het sonder Zak se wete haar suster, Sandy, genooi. Sandy is ’n sepiester en Martin se gewese vrou. Martin daag op met ’n jong dramastudent (Suzzi) aan sy sy en tussen dié vyf karakters, saamgedwing in Zak en Leonor se sitkamer, ontstaan daar konfrontasie, konflik en ontboeseminge.

Die hemelruim met sy sterre en planete wat posisie hou vanweë aantrekkingskrag – Zak se kennisveld – is een van die redes vir die titel van die drama; die ander is die aantrekkingskrag tussen individue; en alles en almal reageer asof in wentelbane om elkander. Zak se ‘sterre’ word in verhouding gebring tot die ‘sterre’ van die verhoog en televisiesepies en dit wat ‘telbaar’ is of ‘in tel is’ (bl. 11). Klem word hier ook gelê op Zak en Leonor se seun wat ’n dramastudent is en nie soos Zak in die suiwer wetenskappe belang stel nie. Ten spyte van die aand se argumente en die bekendmaking van die De Villers-egpaar se seun as ‘(Martin se) saad … Zak se seun’ (bl. 75), bely Zak en Leonor aan die einde hul liefde, ‘meer as die lewe self’ (bl. 80), vir mekaar.

Vroeg in die drama (bl. 17–19) gee Zak ’n ‘lesing’ van sowat vier minute aan studente (die gehoor) waarin hy die ooreenkoms tussen aantrekkingskrag in die heelal en dié tussen mense bepeins. Tydens hierdie ‘lesing’ vries die ander karakters asof hulle hom nie kan hoor nie, ’n breuk in die eerste vlak van die drama: dis sy bepeinsinge wat aan die gehoor oorgedra word en nie aan die ander karakters nie. Sodanige ‘wetenskaplik filosofiese uitleggings’, waar die ander karakters verstil terwyl hy die gehoor aanspreek, kom ook verder in die drama voor (bl. 31–33; bl. 49–51; bl. 63–64; en bl. 77–79). ’n Mens moet aanvaar dat hierdie ‘bepeinsinge’ oor die sterrestelsels en die toepassing daarvan op menslike verhoudinge in hul eie wentelbane om mekaar en die gepaardgaande aantrekkingskrag, veronderstel is om ’n dieper vlak van betekenis aan die drama-inhoud te gee. Uiteindelik kom alles op die lappe, ook die feit dat Johan, ’n dramastudent in sy finale jaar, nie Zak en Leonor se seun is nie, maar wel die kind van buite-egtelike verhouding wat Leonor met Martin gehad het terwyl hy nog wettig getroud was met haar suster, en dat Zak al die tyd daarvan geweet en dit (met dankbaarheid, omdat hy steriel is; bl. 65 en bl. 69) aanvaar het.

Interaksie tussen die karakters bring mee dat die ontvanger meer te wete kom van elkeen: Zak is bewus van sy vrou se ontrouheid, maar vergewe haar; Leonor wil weet sy is steeds vroulik en aantreklik deur te flankeer; Martin wil steeds die ‘ridder op ’n wit perd’ wees vir vroue; Sandy se bestaan draai om haar sterstatus; en Suzzi is ’n mooi, dom poppie wat insig verkry in die wêreld van volwassenes.

Teatergangers het die opvoering blykbaar geniet en ‘baie gehou van die kosmiese spel – letterlik – wat dan figuurlik afgebring word na verhoudings! Ook heerlik woordryk!’, volgens dr. Niel le Roux, organiseerder van die Suidoosfees.

Hierdie metateks is ooglopend gelaai met dinge wat getel of gemeet kan word (‘tel’, ‘lettertjies en nommers’, ‘ontelbaar’, ‘meetbaar’, ensovoorts) en dié oordaad is so in-die-oog-lopend dat dit irriterend raak. Dieselfde kan gesê word van die voortdurend verwysings na die verhoog/drama/akteurs (‘sterre’) en ander teaterterminolgie. Dit word so aanhoudend onder ’n leser se aandag gebring dat weerstand opbou, wat miskien nie tydens ’n opvoering sal gebeur nie, aangesien dit dan van verbygaande aard is. In ’n gepubliseerde teks is die dialoog egter deurgaans onder die oog. Ook die veelvuldige verwysings na ‘taal’, anglisismes en idiome is uiteindelik nie meer komies nie, veral wanneer dit kom van die taalpuris wat ‘so ’n omvattende beheer van onse ou taaltjie het’ (bl. 40) en dan sélf anglisismes gebruik soos om van die menslike aard te praat as ‘mensenatuur’ (bl. 46).

Karaktersisering het my ook nie oortuig nie. So noem Leonor haarself ‘’n ou sosiale hoer wie se glas altyd leeg is’ (bl. 60) en doen haar soms as onkundig en oningelig voor, terwyl haar kennis omvattend is; Martin is hoof van Drama by die universiteit, maar gebruik gemaklik wetenskaplike terme soos ‘termonukleêre ontploffing’ in sy lang spreekbeurt (bl. 52–54). Suzzi, Martin se lover (bl. 73), vervul nie eens die rol van tritagonis nie; sy is blykbaar slegs op die toneel om as aanduider van Martin se sekslewe te dien. Twee volwasse vroue – en daarby susters – wat mekaar letterlik in die hare vlieg (bl. 68) en deur die mans beheer moet word, is myns insiens ‘veel geskreeu en weinig wol’ (bl. 39). Die dialoog laat ook soms veel te wense oor: daar word ten minste drie keer uitgespel dat Zak en Martin van hulle studentedae af beste vriende was en ook, onnodig, dat Leonor en Sandy susters is. Daarbenewens is ‘dit’ ’n belangrike faktor vir die karakters. Leonor sê: ‘As jy dit sê, sal jy dit berou’ (bl. 14); Zak sê aan Leonor: ‘Moet dit liewers nie sê nie’ (bl. 17); Leonor teenoor Zak: ‘Sê dit. Ek dare jou om dit te sê’, en ‘Hoekom het ek geweet jy gaan dit sê?!’ (bl. 29).

Sitkamertonele is so oud soos die eerste Afrikaanse dramas; karakters wat vries terwyl een karakter hom of haar direk tot die gehoor rig, was veral in die sestigerjare ’n algemene teatertruuk; lang monolooggedeeltes (of dan Shakespeare se ‘soliloquys’) is ook nie nuut nie – daar word selfs verwys na Fugard en ’n ‘vyf-bladsy-monoloog’ (bl. 26) – en Opperman het dit self al voorheen gebruik. Dit sal duidelik van ’n regisseur, of kundige leser, afhang om van hierdie drama ’n opwindende ervaring te maak.

Die buiteblad wat ‘komme in die ruimte’ voorstel en tekstueel vergelyk word met die ‘komme wat twee mense in die weefsel van die kosmos maak’ (bl. 64), is oorwegend donker; tog is die inhoud van die drama nie somber nie.

’n Mens sou verwag dat daar, met ’n redakteur soos Daniel Hugo, meer aandag aan spelling en punktuasie gegee sou wees – veral waar ’n hoof- en bysin se werkwoorde langs mekaar te staan kom – en dat ‘weer eens’ twee woorde is.

Waar hierdie drama voorgeskryf word aan studente (en nié leerders nie) kan hulle hulle vermaak met die nagaan van die verband tussen die kosmiese heelal en die uitvoerende kunste, of navors hoe alles wiskundig en telbaar of meetbaar is; ook hoe getrou die karakters aan hul eie (veronderstelde) aard is; en die waarde van die metateks.

Zak en Martin verwys na die objektiwiteit van ’n wetenskaplike wat dan subjektief raak (bl. 55, 56). Hierdie resensie is subjektief en verskil dus ook in groot mate van ander sieninge.



Crossref Citations

No related citations found.